Formule 1 droom, ABU DHABI 2009
Deur Carla Botha (Paljas) op 9 December, 2009, 6:21 am
“Fast cars and lots of money, sexy girls and hours of fun… Playground of the rich and famous.”
Dis deesdae Abu Dhabi (ignoreer die sogenaamde finansiële krisis in Dubai vir die oomblik). Die opening van die Abu Dhabe F1 resiesbaan was redelik onlangs gewees en wat ‘n belewenis! Meeste ondersteuners hetsy McLaren, Redbull of Ferrari kon die affêre slegs op die kassie dophou aangesien kaartjies vinnig uitverkoop het en die prys vir ‘n enkele kaartjie jou sak sou ruk deur amper die prys van vetgemaakte kalf te kos…
Ek tel egter my seëninge – goeie vriende en goeie besigheidskontakte het dit baie maklik vir my gemaak om juigend by die hekke in te kom. Duisende toeskouers is met busse aangery van massiewe parkeerareas aan en nee… Dis nie soos ‘n groot saamtrek na ‘n Moria-naweek in Limpopo nie – meer duisende stinkryk buitelanders van orals.
Oorpluisies is by die hekke uitgedeel en orals was kosstalletjies gepak met honger, afwagtende mens-massas. Opwinding was in die lug te bespeur en meeste Ferrari-ondersteuners het gehoop dat die rooivlam vandag weer sy staal sou wys… Die media was wyd verspreid slaggereed met kamera en mikrofoon.
Die opwarmingsrondte het aangebreek en toeskouers het uit hul stoele opgerys van opwinding – ek was een van daai toeskouers en KFC sou my definitief opgeraap het sou hul my daai dag in die hande kry. Hoendervleis van pure lekkerkry!
Ferrari kon egter nie hond haaraf maak nie en die teleurstelling was groot dat die rooi blits nie ‘n plekkie op die podium kon los jaag nie. Wonder soms of Schumacher nie maar sy sitplek in die rooi karretjie wil kom terugeis nie. Dit sal dinge dalk net weer bietjie verander en opwinding verskaf.
As mens klein is droom mens gereeld… Veral wanneer dit by vinnige, mooi en duur motors kom. Selfs as sportfanatikus droom mens van ‘n kaartjie na ‘n olimpiese spele of selfs die F1. Soms moet mens net hard genoeg droom want wie weet, net dalk word jou wildste drome waar…




























Jinne Carla, MY tipe storie! Ek is fanaties oor F1 - jy is seker bly Schumi kom terug die jaar. Ek sien baie uit daarna, veral om weer die Mercedes span in aksie te sien na soveel jare! Altyd goed om iets nuuts te sien.
Ek wil nog Monaco se resies gaan kyk, hulle ry dan amper oor jou tone daar!!
Dankie hiervoor - vir ‘n fanatikus is dit lekker om bietjie sulke inside info te kon kry!