Thailand se eilande
Deur Carla Botha (Paljas) op 14 December, 2009, 5:17 am
Nee, die foto is nie ge-photoshop nie, die waters van die eilande is regtig so blou en skoon soos in die prentjies. Die kiekie is met my eie, regte egte onderwater Canon geneem.
Koh Samui, Koh Phangan en Koh Tao, drie klein eilandjies en eiland bewoners met die grootste harte. Die leefwyse op die eilande is baie liberaal en mense leef baie eenvoudig in huisies van hout of gebou uit baksteen. Hul vra nie baie nie en is vrede-liewende wesens. Selfs die straatbrakke gee pad indien ‘n bromponie in hul rigting sou beweeg of ‘toot’.
Vervoermiddels hier is meesal enige vorm van motorfiets: 4-wiel, bromponies, scramblers. Motorvervoer word nie hoog geag op enige van die eilandjies nie. Inkopies is ook vetpret in die deel van die wêreld aangesien goedere meesal spotgoedkoop bekombaar is. Klere, lampe, sakke, kos by restaurante en verblyf in top oorde – als regtig goedkoop.
En indien jy belangstel in goeie en bekostigbare tattoeërmerke of piercings, dan is Thailand jou bestemming. Doen maar net vooraf bietjie “huiswerk” oor ‘n kunstenaar – Google is jou one stop shop vir meer inligting…
So was dit ook dan die laaste Volmaanpartytjie op Koh Phagan, in die klein dorpie Haad Rin die 2de Desember. Heel onbepland het ek my in die deurmekaarspul bevind. Duisende jongmense in hul vroeë twintigs oppad na een van die grootste en mees prettige partytjies op enige eiland (of so word daar beweer). Ek het egter die hasepad gekies die bosse in teen sonsondergang en lê-plek gevind by Santhya Oord. Ongelooflike en welverdiende vyfster-oord. Steeds baie bekostigbaar sou jy wonder.
Dan is daar wel die skelms wat te veel geld vra vir die huur van ‘n bromponie en dan nog geld sal eis vir sogenaamde skade op die fiets – wees op jul hoede! Owen Travel in Koh Tao is een van die duiwels wat my hoogs de duiwel ingehad het! Maar laat ek nou nie verder harekloof oor die skelmspul nie…
‘n Week is meer as genoeg om die drie eilande te besoek en dis ook meer as genoeg tyd om reg rondom elke eiland te ry met ‘n motorfietsie. Tussen-in is daar olifantritte en watervalle wat wag om ontdek te word en ‘n swem in ‘n yskoue, skoon waterval is nie te versmaaie. Moenie vergeet van al die cocktails en drankies uit kokosneute op die skoon strande nie. Maar as daar een ding is wat geen een ooit moet vergeet by die besoek aan Thailand nie, dan is dit muskietweerder…en BAIE daarvan.




























Sjoef en wil nog vir M soentoe neem…