Double Century
Deur Coos Diener op 15 December, 2009, 11:03 am
“Waar is Gerrie?” vra die ouens van die Pep Cell span. “Hy het sy skouer muf geval en kan nie ry nie” kom die antwoord. Al hoewel dit die waarheid was, sou die beter antwoord die nagemaakte gebalk van ‘n donkie gewees het. Hoekom? Want almal moet weet die Pragma span die Double Century gery.
Die Double Century is ‘n 205km fietsresies wat begin en eindig in Swellendam. Dit word in spanverband gedoen (tussen 6 en 12 ryers). Die spanne word een vir een afgesit en moet op hulle eie die resies voltooi. Om die resies suksesvol te voltooi moet ses lede van die span die eindstreep binne een minuut na die eerste ou oor is die resies voltooi. Enige span se sukses hang dus van goeie spanwerk en samehorigheid af: op so dag is elke lid van die span broodnodig. By Pragma geld die reël dat almal onder een kombers begin en onder daai selfde (spreekwoordelike) kombers klaarmaak. Die gevolge van enige ander strategie het die pad na Swellendam besaai met groepies van twee tot drie ryers wat alleen teen die wind en die bulte baklei.
Al was Gerrie (die spankaptein) nie daar nie, was Tony en Willie daar (en hulle weet dis waar). Hulle het in Gerrie se afwesigheid die leiding geneem. Dit was maar moeilik, veral om die jonger latte intoom te hou. Tony met sy groot mond (al is dit meer blaf as byt – hy is eintlik ‘n nice ou) het genoeg geraas gemaak om almal se aandag iewers anders te hê. Willie het weer ure lank die regte pas op die skerp punt van die Pragma peloton aangegee het. Hy het darem nie alleen voor gewerk nie: die twee Engelse (altwee eintlik wannabe Engelse), Jazz en Dave het hom goed ondersteun. Jazz is wel bietjie kort om noemenswaardige beskutting teen die wind te bied. Gelukkig was sy moustache teen daai tyd al welig genoeg en dit het sy windskuilingspotensiaal effe vergoot (sy verskoning was Movember…enige iets vir kankerbewustheid). Dave is Jazz se Epic partner en mens kon sien die twee het al baie saamgery. Ten spyte daarvan dat Dave Gerrie se swaar ratte moes draai (hy het met Gerrie se fiets gery) het hy baie goed gedoen. Johan B, uit die verre land van die Noord-Transvaal, is een van die Pragma werkgewers in die span. Hy was altyd reg met ‘n glimlag en ‘n geselsie. Nelson werk ook vir Pragma en is seker die ou wat die hardste gewerk het op die dag: hy het amper 10 000 kilokalorieë verbrand. Hy het uitstekend gedoen vir iemand wat in eers in Julie ernstig begin fietsry het: sy Epic 2010 voorbereiding is definitief op koers.
Johan O is Gerrie se kleinboet en gelukkig het hy nie soos sy ouboet (wat die heeltyd in sy big blade gery nie) want anders het hy ons almal afgery en dan moes hy vir homself grappies vertel. Johan het wel nie ‘n bang haar op sy kop as dit by fietsry (en meeste ander dinge) kom nie. Michael was soos Dave ‘n laat toevoeging tot die span, beide supersubs. Hy het nog nooit verder as 100km gery nie, maar het die dag baie mooi in sy stride gevat. Ook altyd reg met ekstra asem om ‘n beaming smile uit te deel. Elmien het die vroulike geslag se naam hoog gehou en darem voorkom dat die manne nie te bar raak of heeltemal handuitruk nie. Sy het wel haar “one of the boys” status bevestig met goeie gees en ‘n volgehoue, gefokusde poging. Noddis het met Spyker en Riet (sy twee hoenderbeentjies) op Katreintjie die wêreld heel goed aan die brand getrap. En ook baie vir Elmien gestoot (dit het die span se vordering gehelp). Hy het op een stadium ook een van die marshals probeer stoot (dit het nie die span se vordering gehelp nie). Coos het die heeltyd agter rondgehang en grappies probeer vertel. Loftie was ook daar, maar moes ons ongelukkig weens mediese redes verlaat. Hy het darem bo-op Op-de-Tradouwspas vir ons goeie aanmoeding gegee, wat baie waardeer is. Die laaste skakels, wat die span heeltemal bymekaar gehou het, was die ondersteuningspan: Corneli en Anni het hulle longe uitgecheer het, fotos geneem, kos aangedra en bene gevryf. Voorwaar klas ondersteuning.
Die span se aangenome gelukbringer is die donkie wat die skape oppas op die plaas waar hulle oornag het. Noddis het hom sommer Andries gedoop. En Andries het definitief al koor of iets gesing, want hy weet net wanner om ‘n keel op te sit. Sy beste timing was toe Tony die oggend om 04:30 die voordeur opruk en Andries hom (en almal anders wat wakker of amper wakker was) luid groet. Vir die res van die dag was Andries in gees saam met die span (hy is ‘n hele paar maal gehoor). As Andries nie daar was nie, het die FAK-sangbundel ingestaan.
Die rit self was baie susksesvol. Alhoewel die span hul teikentyd goed oorskry het, was die dag sonder enige werklike teëspoed. Net buite Suurbraak het Jazz wel sy pedaal eensklaps verloor (hy het gestop en toe hy weer op sy fiets klim trap hy sommer die pedaal af). Loftie se probleem was ernstig, maar die situasie kon gelukkig maklik hanteer word. Dit was wel duidelik dat nie vir hom ‘n maklike besluit was om halt te roep nie. Hy het ons gegroet aan die agterkant van Tradouwspas.
Teen die moordende klim van Op-de-Tradouw, buite Barrydale oppad Montagu toe, het die warm dag wel ‘n boetoffer geëis: een van Nelson se buitebande het die hoogste prys betaal. Dit kon darem gou vervang word, want die ondersteuningspan was nie ver weg nie. Verder was die dag sonder insident, wat ‘n genade was, want in die hitte kon baie verkeerd gegaan nie. Op die stuk pad tussen Robertson en Bonnievale het die sonnetjie in die besonder jy kant gebring. Gelukkig is daar ‘n lieflike fonteintjie voor die Bonnievale wynkelder. ‘n Paar stink voete is die dag in daai water afgekoel – die fontein is wel nou nie meer so lieflik nie.
Dit was opvallend hoe baie ryers in die laaste twintig kilometers uitgeval het. Hierdie laaste tiende van die resies is waar dinge begin lekker raak het en toe dit lekker raak toe raak dit sommer baie lekker. Die spanne het Swellendam binne gekom langs die R60 (pad tussen Ashton en Swellendam). Daar is paar lelike bulte op daai pad en almal het geweet van hulle, want toe is die bene al seer. Pragma is wel in styl oor die bulte en so ook oor die eindstreep. Dit het nie ongesiens by van die toeskouers verby gegaan dat die span soos een man in vlees en gees klaar gemaak.
Laastens gaan daar ‘n groot dankie aan Pragma wat die dag moontlik gemaak het. Wees volgende jaar op die uitkyk vir die Pragma peloton, want Pragma mag ma.




























Ek moet ook net dankie sê aan Noddis wat sy kamera saamgesleep vir die fotos.