Thursday 09 September 2010

As dit nie gaan oor wen nie.

Deur Coos Diener op 18 January, 2010, 6:47 am

Die artikel het ek in my kop geskryf oor vyf lang ure. Ek moes net iets kry om aan te dink, om my aandag bietjie af te trek van die ongemak wat deur my kop gedonder het. Dit was soos ‘n suidoostewind wat waai asof dit ons almal in die see wil waai. Maar soos die wind, kon ek nie regtig van die ongemak skuil nie, dus kon ek nie te ver van die onderwerp afdwaal nie.

Dis die Desert Dash 2009, skof 3 van 4, 187km van 340km al gery. Toe besluit ek ek is klaar, want vir die afgelope 150km het ek al gevoel of ek wil dood en ek sien nie kans vir nog 150km daarvan nie. Dit was nie maklike besluit nie, dit was die eerste maal dat ek ‘n fisiese uitdaging nie klaar maak nie. Die vorige kere wat dinge verkeerd geloop het was dit nie maklik om klaar te maak nie, maar hierdie keer het hy my in ‘n hoek: ek het nie meer keer in my nie en die houe het ongenaakbaar bly val. En toe lê ek daar, in die louwarm Namibiese na-nag, platgeslaan, met slegs die gedagte: “As jy nie iets doen om te wen nie, hoekom doen jy dit dan?”

Wanneer ek normaalweg die vraag gevra word, lag ek dit af en antwoord: “Want ek kan”. Toe kon ek nie meer nie, so hoe nou? Ek het ‘n lang nag gehad om daaroor te dink. Die antwoord het ek eintlik al geweet, het dit besef toe ek oor een van die honderde naamlose bultjies van die tweede skof gery het: Ek doen dit om my prioriteite uit te sorteer.

Ek dink in almal se moderne lewens is daar groot stukke grys areas. Die wit en die swart is gereligeer tot die periferie van die lewe. Behalwe vir die fanatici (van enige aard), die dronkes en die wat nie meer wil dink nie. Daar is nie meer globale regte antwoorde nie. Ja ons almal weet wat reg is en wat verkeerd is, daarvoor is daar genoeg landswette. Wette gaan ongelukkig nie oor waarheid nie. Waarheid is iets wat elkeen vir onsself moet gaan soek. Ek dink ons is almal te gemaklik, ons hoef nie meer te oorleef nie. En dus hoef ons nie meer instinktiewe, nou-of-nooit besluite te neem nie. Mens kan meeste besluite verander of omseil. “… ek wil nie meer dit of dat koop nie…ek kan dit mos binne ‘n week teruggee? … nee, nee daar is niks fout met die produk nie … ek het bloot anders besluit…”

Dis hoekom ek eintlik bly is oor die nag in die Namib woestyn. Toe ek nie meer kon nie. Ek moes ‘n besluit neem. Na alle kante toe was nie lekker opsies nie. Of ek ry aan, wees vir nog 150km naar met ‘n maag wat 17km te vore dolleeg gemaak is (en ek kon nie veel intussen inkry nie). Of stop dit hier; live to fight another day. Moet wel dan aan almal verduidelik hoekom ek dit nie gemaak het nie. Loss of face moet verduur (al is dit net in my kop). Probeer dinge rasionaliseer, dit was nie my dag nie - soos ‘n vriend sê: Op die dag kan Bangladesh kan die Proteas klop. Maar my selfvertroue het wel ‘n knak gevat. Wat as dit weer gebeur – hoe gaan ek dan reageer? Ek weet nie hoe ek sal reageer nie, maar ek sal die gevoel herken wanneer ek weer daar kom. En omdat ek weet wat aan altwee kante van die besluit lê glo ek ek sal dit beter kan hanteer. So word nog ‘n lewenseksamen afgelê. Die uitslag maak nie saak nie, net die ervaring wat nuut verkry is.

Na so ‘n ervaring is die grysareas ewe skielik in die alledaagse kleiner. Ek is gefokus op dit wat belangrik is. So word die swart en die wit van mekaar geskei. Met die tyd saam sal die grys weer groei. Dan sal ek weet dis tyd om uit te vind hoe dit voel om die einde van my kragte te bereik en voor die keuse van aangaan of ophou te staan. Al gaan ons miskien nie om te wen nie, behoort daar in alles wat ons doen ‘n stukkie oorwinning te wees.

Gaan koop vir jou ‘n bicycle, ek sal saam met jou gaan ry.

Stuur na Twitter 

Versprei, print of e-mail hierdie artikel:
Print hierdie artikel Epos hierdie artikel

Hierdie artikel is geskryf deur:
Coos Diener Coos Diener - skrywer van 40 artikels op die Willeklong Portaal. Ek is op my gelukkigste as ek kan eet of slaap. Om hierdie twee dinge tot hulle maksimum te kan geniet hou ek daarvan om te gaan vars lug soek iewers in die berg of op die fiets tussen die Kaapse wingerde. Vir geld om al die dinge te kan doen, doen ek navorsing by Stellenbosch Universiteit.

Skrywer se web tuiste: www.wk.co.za

Lees meer in Bok vir Sport, Hooflyn.


KOMMENTAAR

Marnus January 18, 2010

Brilliant artikel Coos. Ek dink die moderne mens verloor maklik fokus agv al die miljoene goed wat mens se aandag aflei daar buite. Wat vir die een mens belangrik is, is vir die ander nietig.

Sit jouself in die skoene van die mense wat in Haiti onderberge puin en bourommel le. Op hierdie stadium is daar nie enige grys areas by hulle nie, een ding is belangrik….oorlewing. End of story. Ek dink dit is belangrik om jouself in ‘n situasie te sit waar jy moet kies tussen die emosionele (om face te verloor bv) en die fisieke (jy staan die kans om dood te gaan as jy nie nou handdoek ingooi nie). Ek reken jy het taamlike glashelder perspektief op die oomblik..

Dink dis tyd vir nog ‘n vasbyt boys! (Coos, hou in gedagte dat jou physical boundary en my en die res van die boys s’n is nie noodwendig dieselfde ding nie!)

Riaan January 26, 2010

Knap gestel Coos. Dit is so dat mens een of ander tyd met daardie kwessie gekonfronteer word, en elke keer as dit gebeur leer jy opnuut iets oor jouself. Ek dink die groot ding is dat JY in jou hart tevrede moet wees met die besluit, en dat dit nie regtig belangrik is wat ander daarvan dink nie. Solank jy weet dit was op daardie oomblik die regte belsuit vir Coos Diener. Dit geld vir ieder van ons.

Henry January 27, 2010

My maat ek lees nou al jare lank artikels van jou en hierdie moet ek se is jou beste een. Jy het sin op sin die spyker op die kop geslaan.

“Die uitslag maak nie saak nie, net die ervaring wat nuut verkry is” - ek kon dit nie beter se nie.

Die moderne lewe is so vinnig en rof met tye dat mens soms so resultaat gefokus is dat mens die ervaring verloor.

Soos Marnus se ons en jou physical boundary is HEELTEMAL op ander levels, maar ja ek het n fiets en ek sal saam met jou gaan ry….jy moet wel jouself reg maar om hierdie knaap baie moed in te praat na die eerste 5km….

Dankie vir hierdie great artikel / ervaring….

coos January 29, 2010

As ‘n reël hou ek nie daarvan om self kommentaar op my eie artikels te lewer nie. Maar dankie vir die comments kêrels, dis lekker hoe om te hoor hoe julle die saak sien.

LOS KOMMENTAAR

Afrigator