Net oorkant die grens
Deur Carla Botha (Paljas) op 15 February, 2010, 5:47 pm
Al oppad middel Februarie toe en min einde aan opwindende gebeure hier in Dubai en omgewing. Van een hengse motorfiets-uitstalling hier in Dubai tot net duskant die grens so slapregs waar Oman lê.
Vreemde witgrys en klipperige stuk aarde wanneer ons by die grenshekke aankom. Die taxi bestuurder maak dit ook duidelik dat geen fotos hier geneem mag word nie (bang vir terrorisme) en ek steek maar ewe gedwee my kamera’tjie weer terug in my knapsak. Vinnig nog ‘n stempel in die paspoort en daar ga’at ons weer. Berg pas op, op, op, en dan af, af, af met die mooiste skoon en helder kusuitsig. Hoe kan so stuk droë aarde so mooi kusstrook hê?
Paar minute later is ons bo-op ‘n arabiese boot (dhow). Ons is so ongeveer 12 mense wat besluit het om kersdag anders te vier. So vaar ons dan rustig die pragwaters oor met grysberge orals waar jy kyk. Hier en daar afgeleë stamme wat verkies om nie saam die res van die wêreld aan te beweeg nie… Weereens mag ons geen kiekies neem nie – die stamvader is bang sy “beeldskone” dogters word ontvoer…
Dan stop ons eweskielik en die toergids begin fluit en fluit en fluit… Dolfyne! ‘n Stuk of 10 van hulle. Geruisloos swem hulle sodat net hul vinne sigbaar is. Nog ‘n paar fotos word geneem en dan maak ons aanstaltes. Middagete is vars gebraaide vis, tamatieslaai sonder sout en arabiese brood met hummus. Nou nie ‘n fynproewersdis nie maar dit stil die nodige hongerpyne. So vaar ons voort…
Die water raak al hoe skoner en blouer hoe verder ons vaar en dan stop ons weer. Aan ons word verduidelik dat dit veilig is om hier te snorkel. ‘n Hele uur van onderwaterlewe word besigtig deur half toegewasemde snorkelmaskers. Heeltemal die moeitewerd.
Die dag raak al hoe langer en die skaduwees nog langer. Later gewaar ons nog ‘n skool dolfyne en dan die omdraai. Die luggie raak skraal en ons vind skuiling onder klam handdoeke. ‘n Heilige stilte daal oor die eens opgewonde passasiers, almal staar die horison in en sommige vang ‘n middagslapie.
Terug in ‘n wildvreemde en baie konserwatiewe deel van die Arabiese Peninsula met Muskat as die hoofstad - ‘n dorpie of stad wat terug dateer uit die Steentydperk min of meer 5000 jaar gelede. Die kort reis op Kersdag het tog heimweë opgedis…




























Mooi storie Carla!