Monday 06 September 2010

Rooikappie en die Wolf – die VOLLE Waarheid!

Deur Riaan Coetzee op 28 April, 2010, 6:48 am

Eens op ‘n tyd was daar hierdie dogtertjie gewees wat in Feetjieland, reg langs die Towerwoud, gewoon het.

Eintlik was sy blond maar sy het heeldag met so ‘n rooi mussie op haar kop geloop met die gevolg dat almal in Feetjieland en die Towerwoud haar toe Rooikappie begin noem het.

Vreeslike fraai kind, en tog so lief vir haar Ouma. Ouma het in die nabygeleë Towerwoud gewoon, nie ver van die Houtkapper af nie want hulle twee het saans saam TV gekyk. Survivor was hoog op die lys want die bos was ook maar gevaarlik.

Een goeie dag kry Rooikappie toe ‘n sms van Ouma af waarin sy vra of sy nie asseblief vir haar ‘n paar goedjies uit die dorp sal saambring nie, en dan eet sy sommer middagete saam met Ouma en die Houtkapper. Ouma voel bietjie siekerig en lê bietjie in die bed.

So gesê so gedaan, en Rooikappie is toe daar weg na die naaste – en enigste – Spaar in die dorp. Spaar, want in Feetjieland kry jy nie ‘n franchise van die meer bekende winkel groep in menseland nie. Meeste mense wil dan probeer voorhou dat hulle nie eers in feetjies glo nie!

Toe maak Fielies die Smouskabouter sommer sy eie naam op. Hy wil Spaar ook franchise maar die ander kabouters wil net heeldag sampioensop maak en die feetjies se vlerkies vryf!

En Rooikappie is toe daar weg met haar herwinbare papiersak vol van Ouma se inkopies. ‘n Ses pak Miller Draught’s (eintlik Houtkapper se gunsteling) en die nuutste DSTV gids.

Vat sy toe die voetpaadjie in die donker, donker bos in. En soos sy dieper in die bos in stap, raak dit al hoe stiller en grilleriger en Rooikappie al hoe benouder.

Boomtakke begin lyk soos kwaai Youth League ondersteuners en uile skree HOO HOO terwyl hulle so streep-streep skittery op alles wat beweeg.

Die wind waai onaardig deur die woud en maak snaakse geluide, amper soos ‘n fluitjie wat in ‘n hol pyp geblaas word maar heeltemal anders.

Elke keer as sy vir Ouma gaan kuier gaan dit maar so – maar dis wat jy kry as jy in ‘n woud stap waar PMS feetjies die septer swaai. Al die ander gediertes raak lekker wild van omgekrapgeid oor hulle daai stokkies met die sterretjies op die punte so windgat rondswaai en sommer mossies in boomklim goudvissies verander net omdat hulle vlerkies jeuk.

Maar op hierdie gewraakte dag het Wolf onder ‘n bossie gelê en slaap toe hy Rooikappie hoor vir haarself sing om die vrees te probeer bemeester – “La la la la la la LAAAAAAAA!” sing sy in so ‘n bewestemmetjie nes Pippie Langkous van ouds maar meer op noot.

Wolf hoor dit en word wakker. Sien vir Rooikappie daar verby trippel en besef toe hy is eintlik vreeslik honger!

Net toe hy begin planne maak hoe om haar op te dis vir ete spring Varkie daar agter die een boom uit. Snaakse pienk varkie daai. Groet Rooikappie ewe vriendelik en nooi haar om eers gou saam by Winkie The Poe aan te gaan om ‘n lekker heuning shooter op die proef te stel wat Winkie en Tickler die Tier uitgedink het.

Tickler is oorspronklik van Indië af, maar is gevra om te loop want hy wil net heeldag op alles en almal spring. Hy wou eers ‘n monnik in Tibet word maar het na vele omswerwinge in die woude van Feetjieland opgeëindig en daar groot pelle geraak met Winkie, Varkie en Dom Donkie.

So haak hulle bietjie vas by Winkie se huis en sink ‘n lekker paar heuning shooters. Rooikappie het later gereken dit is seker tyd om te gaan anders word dit donker en DAN wil jy nie in die woud wees nie. Dit was hoeka vroeër die week in die Feetjie Nuus – die weeklikse koerant – dat van die bos monsters bietjie gaan staak en goed rondgooi.

Intussen het die Wolf die storie afgeluister en gehoor sy gaan na Ouma toe. So hy het vooruit gehardloop en toe Ouma se hele dag gaan opneuk. Klop aan die deur en Ouma, wat bietjie doof was, vra wie is daar? Se Wolf so ewe hy verkoop koekies vir die Voortrekkers! Kan jy glo! En Ouma val daarvoor, maak die deur oop en daar staan hierdie dierasie met ‘n bekvol tande.

Die uiteinde is dat Wolf toe vir Ouma vasbind en haar in die een kas inprop. Hy klim toe in Ouma se bed in en trek haar pajamas aan! Daar lê die ou skelm toe en wag vir Rooikappie, sy beplande maaltyd - klaar bestel!

En Rooikappie maak spore want die tyd stap aan en die heuning shooters het gehelp met die moed so die bos lyk bietjie minder spokerig!

By Ouma se huis gekom sien sy die voordeur staan so effens oop. Niks vreemd daaraan nie, so sy stap net in, sit die Miller’s in die yskas en die DSTV gids voor die nuwe platskerm LCD tv neer.

“Oumie” roep sy! “Waar is Oumie”? Kom so ‘n growwe bewe stemmetjie uit die kamer: “Ek is in die bed my kind”!

Rooikappie stap kamer toe en daar lê haar pragtige ouma. So mooi harig en ‘n pragtige lang neus. Huh?! Harig? Lang neus? Wat gaan aan!

“Ouma, maar hoekom is Ouma se stem so diep”?

“Dis maar die baie hoes laasnag my kind”

“En hoekom is Ouma so harig”?

“Ouma het die verkeerde medisyne gedrink my kind, maar dit gaan weer weg na 48 uur”!

“Ouma, hoekom is ouma se ore so groot”?

“Om beter te kan hoor my kind”.

“Ouma, hoekom is Ouma se neus so lank”?

“Om beter te ruik my kind”.

“Ouma – liewe aarde – hoekom is Ouma se TANDE so lank”?!

Spring Wolf daar op uit die bed uit jy sien net komberse waai en bestorm Rooikappie dat Ouma se pajamas so fladder agter hom aan! Arme Rooikappie skrik al daai heuning shooters uit haar gestel uit en gee ‘n benoude gilletjie en struikel so agteruit in die gang in met Wolf agterna!

Rooikappie se ogies staan sommer so wild soos sy uitkoms soek, maar Wolf lê al lank en dink aan hierdie lekker maaltyd en hy grom net en storm agterna. Die kwyl spat in sulke strepe teen Ouma se geraamde Onse Vader doilies vas! Sies!

Dis ‘n dolle jaagtog al in die gang af maar Rooikappie wen net-net en storm by die voordeur uit. Maar net buite die deur haal Wolf haar in en gryp haar aan haar rok om haar te briek.

Gelukkig is daar niks fout met haar stembande nie en sy gee ‘n vervaarde gil wat deur die Towerwoud weergalm soos een van daai Suid Amerikaanse Howler Monkeys wat in touch is met sy vroulike kant.

En net op daardie oomblik is die 7 Dwergies toe mos op pad terug huis toe om hulle daaglikse afspraak met Sneeublertsie na te kom. “Hi Ho, Hi Ho” sing hulle lustig. Omdat hulle klein is, het hulle natuurlik ook ‘n klein long kapasiteit, en moet dus gereeld asemhaal tussen die singery deur.

En dis net op daardie een spesifieke asemteug wat hulle Rooikappie se benoude gil hoor. Soos een man draai hulle om en hardloop in die rigting van die gil! Op pad hardloop hulle by die 3 varkies verby wat besig is om bakstene te vervaardig vir die laaste varkie se huis.

Die varkies sien hier is groot drama en hol agterna.

Gelukkig was dit nie vreeslik ver nie en net toe hulle om die laaste kronkel in die paadjie storm en Ouma se huisie hier voor hulle lê, sien hulle hoe Wolf vir Rooikappie in die huis in trek.

Die 7 dwergies is bietjie stadig en wil nog plannetjies beraam, maar die 3 varkies is nie links nie en een gryp ‘n graaf wat Houtkapper op die kruiwa gelos het, die ander een ‘n rol tou, die derde een het per toeval ‘n pasgemaakte baksteen in sy hand - en daar storm hulle in die huis in!

Voor Wolf nog kon keer bespring daai 3 varkies hom en die een gooi hom met daai baksteen teen sy kop dat sy ogies sommer so wit raak. Toe sy kniegies knak ruk die een vir Rooikappie weg en die een met die graaf hak af en WHAM klap daai graaf neffens Wolf se groot linkeroor vas met ‘n knal wat vensters in Ouma se huisie laat kraak en verf van die mure laat afdop.

Wolf se bene vou onder hom in en hy val neer soos ‘n afgekapte boom. Teen daardie tyd is die Dwergies darem by en onder leiding van Dopey begin hulle Wolf vasbind terwyl Doc help om Rooikappie te kalmeer. Die 3 varkies dop elke kas in die huis om op soek na Ouma en kry haar toe darem in die spenskas – lekker verwilderd oor die helse gebeure van die dag. Arme Ouma!

Toe Rooikappie bietjie bedaar het jaag sy Ouma dadelik 2 Miller’s in om haar te kalmeer en deel die ander 4 uit tussen haar heldhaftige redders. 2 slukke elk en toe is dit tyd om Wolf daar uit te kry.

Vasgebind dat hy soos ‘n skoenlapper larwe lyk kan hy almal net met woeste kyke aangluur en gromgeluide maak, en begin toe die varkies dreig dat hy gaan hyg en blaas en hulle huise skade aandoen.

Op daardie punt gryp Rooikappie ‘n stoflap en prop dit in Wolf se bek in dat hy nie ‘n verdure dreigement kan uitkry nie! Mffff Mfffff Mffff steun hy nog maar toe hy eers die ou Mr Min op die lap proe besef hy vinnig hy moet sy bek hou en fokus om nie te sluk nie.

Die spannetjie heldhaftige redders help toe om hom op te tel en in Houtkapper se kruiwa te sit. En daar gaan hulle met Wolf, die woud in.

“Hi Ho, Hi Ho” sing tot die varkies saam, en hulle maak beurte om die kruiwa te stoot. 2 ure later kom hulle toe uiteindelik by Old Macdonald se plaas uit en Doc stap voor om die boer te gaan opklop want teen daardie tyd was dit darem al goed donker.

Old Macdonald is toe darem heel begeesterd om te help met die bos se groot probleem kind, en onthou toe dat hy ‘n klompie ou skaapvelle in die skuur oorgehou het. Die het hulle toe in ‘n oorpak geprakseer en vir Wolf aangetrek, en hom in een van die leë skaapkampe losgelaat.

En van daardie dag af het Wolf skaapklere gedra, en al die res van die bewoners van die Towerwoud en omliggende streke het baie gelukkig saamgeleef.

En Spaar is nogsteeds nie ‘n Feëtjieland Franchise nie.

Stuur na Twitter 

Versprei, print of e-mail hierdie artikel:
Print hierdie artikel Epos hierdie artikel

Hierdie artikel is geskryf deur:
Riaan Coetzee Riaan Coetzee - skrywer van 4 artikels op die Willeklong Portaal. Ek bly in Pretoria, en is gebore in Kroonstad. Maar my hart is altyd in die bos. Om 'n knetterende kampvuur, goeie vriende, met 'n leeutjie wat êrens brul. Dan is ek op my heel gelukkigste. Stiltes en die natuur trek my soos 'n magneet. Ek is ook 'n bemarker van faam, en ek kook 30 minute brownies in 20 minute, het kransduik kompetisies in Sri Lanka gewen, Hamlet gespeel, opehart chirurgie gedoen en met Elvis gepraat. En pas weer begin oefen om die lyf in orde te kry!

Skrywer se web tuiste: www.o5webdesign.com

Lees meer in Afrikaans met Byt, Hooflyn.


KOMMENTAAR

marcelle April 28, 2010

sistatjie……….. jyt talent!!! dis BRILJANT!!!!!!!!!!!!!!!

Lizelle Joubert April 28, 2010

Dit is nog awesome baie oorspronklik al moet ek self so se

Adrie Nel April 28, 2010

Dis rerig brilhant!!!!!!!!!! Rooikappie in die nuwe SA!!!!!!!

Eddie Botes April 28, 2010

Cool !!

Vrye Denker April 28, 2010

Baie oulik. Mens moet eintlik sulke stories in ‘n boek saamvat.

Magriet van Zyl April 28, 2010

Riaan, dit was uiters puik!!!!! My maag nogsteeds seer van al die lag!

Miri April 28, 2010

Wow Riaan, dis great, klink so half asof die wolf ‘n prominente regerings amptenaar kan wees!

Betsie Ackerman April 28, 2010

Uitstekend! Kan ook doen met ‘n spaar franchise hier in malawi!

Marie Booysen April 28, 2010

Riaan: ek het my slap gelag vir Rooikappie!!! Dankie dat jy my gesê het daarvan. Ek sal die voriges ook nog lees……. XXX

Elmie Maree April 28, 2010

dis absoluut fantasties!! My seun (8) is histeries gelag!!!!!!!! Puik werk en ek stem, voorwaar briljante talent!!!

carien April 28, 2010

awesome!!! jy’t talent, mnr!! maar ek’s seker jy weet dit … (^_^)

Estelle April 28, 2010

ha-ha - briljant!!!

Jesse Huisamen April 28, 2010

Joh Riaan..ek het my geskeur van die lag…kan nie wag om dit vir my kleinseun in Scotland te vertel nie…sy praat Afrikaans is nou nie van die beste nie maar hy verstaan als…hy is maar net 6 jaar oud maar lief Afrikaanse stories….dis briljant…as jy die stories publiseer sal ek beslis eerste in die ry staan vir die boek…ons raak maar uitgehonger vir lekker Afrikaans in Scotland.

Henrietta Bock April 28, 2010

Riaan, het dit nou baie geniet, daai heuningshooters vat die koek. Jy mag maar hoor!!

Nicolene Lubbe: April 28, 2010

Dis brilliant!!!!! ‘n man van vele talente ne!!!

Riaan April 28, 2010

Dit is regtig oorspronklik en goed gesê, hou so aan, kan nie wag om die storie van hassie te hoor nie hahaha

Stepanie April 28, 2010

Hahahahahaha….daar is nou talle raaisels opgelos. Dankie, Riaan….ek het juis geponder oor hoe wolf in skaapklere beland het. Ek sien nou die volle waarheid. DANKIE! Jy is awesome!

marlene olivier April 28, 2010

BRILJANT…….LEKKER VERMAAK….JY HET TALENT MENEER!!!!

Mandie April 28, 2010

Goeie werk my mater…ek stem saam…jy moet dalk ‘n boek publiseer met jou moderne SA feetjieland stories… :-)

AntoN April 28, 2010

NIIIIIIIICE !!!!!!!!!!!!!!!!

Riaan April 28, 2010

Dankie julle ek waardeer! Rooikappie sê ook dankie.

Jana Hartmann April 28, 2010

Riaan, jou ou doring. Rooikappie is al lankal reg vir ‘n “re-vamp”, en dit het jy beslis reggekry. Wat van sommer ‘n hele versameling sprokies met ‘n kinkel? Roald Dahl in Afrikaans….

Estelle Paxton April 28, 2010

Riaan dis ‘n treffer het elke woord opgeslurp..en so geniet ! Liefde uit Moskou.. xx

Marian de Waal April 28, 2010

Absolutely MAGIC Riaan lolol!!! Ek het dit uitgedruk om op die langpad PE toe die naweek, vir my se dudes te lees - hulle gaan hulle gaaaate uit geniet!! WELL DONE!! M

Chris Kleynhans April 28, 2010

Dit is baie goed, skerp en amusant Riaan. Ek het myself oor ‘n mik gelag. My dogtertjie verstaan ongelukkig net Engels anders het ek hom nou vanaand vir haar gelees. Jy kan mos nie sulke lekker Afrikaans vertaal nie, werk net nie. EK het juis laasweek geluister na die liedjie Little Red Riding Hood op You Tube en hier kom jy toevallig met nog ‘n weergawe in dieselfde luim. Ons hou ons oë oop vir Sneeuwitjie.

Riaan April 28, 2010

Dankie julle ek speel met die idee om ‘n paar sulke stories te skryf en dan dalk sommer ‘n in Ebook formaat beskikbaar te stel ten te kyk wat gebeur. Waardeer julle terugvoer!

Elize (Elephant Walk) April 28, 2010

Hallo Riaan,

Ek wou die Rooikappie vir my twee kleinseuns stuur (6jaar en 9jaar) maar ek dink my seun en sy vrou sal dit net so baie geniet soos ek!!

Baie skerp! Moenie, moenie ophou nie!
Wanneer kan ons die volgende feëtjie verwag?

Tarina Kotze April 28, 2010

Dis is wonderlike, ek het dit so geniet!

Mel April 28, 2010

Sjoe, jy mag maar skryf, geniet die talent wat God jou toegedien het.

Pieter Kotze April 28, 2010

Riaan,baie stunning,ek het vir n oomblik soos n moderne kind gevoel,die antieke een het ek mos al beleef!

Esther Rossouw April 28, 2010

Riaan, jy besit die vermoe om die kind in elkeen van ons weer na vore te bring. Jy het ongelooflike talent. ek het dit onsettend geniet en gaan dit definitief vir die res van die gesin ook lees. Doe so voort.

Henry Jonker April 28, 2010

Whahaha….lekker ene Riaan

Linda Vorster April 28, 2010

;-D Ek het jou mos gesê!!!!! Baie geluk Riaan! Dis genuine nice!!!

Marita April 28, 2010

goeie genugtig, so die varke in die feeverhaal was die eintlik heroes? en al die jare dog ons dis die houtkapper wat so awesome was.

Annike Coetzee April 28, 2010

:)Briljant!Hou so aan!Dink nog meer uit miskien later sal ons dit by jou kan koop in boekvorm.x

BYT MY April 28, 2010

Dit was nou donders snaaks,., ek dink nie eers ek kan so baie nonsens uitdink nie,., LMGA!

ELIZE ERASMUS AUCAMP April 28, 2010

:-D Awesome, stunning, amazing eish’ dis alles under statements dis ongelooflik goed!

Magda du Toit April 28, 2010

Die volle waarheid!!! Amazing…. ek het omtrend ontspan en dit geniet. Mooi Riaan!

Carina Barnard April 28, 2010

Ek het dit vreeeeeeslik geniet Riaan…..as preprimere juffrou leef ek my mos baie maklik in kinderstories in maar hierdie moderne weergawe vol humor het my werklik betower…….jy MOET asb vir ons in boekvorm publiseer!!!! Die maatjies sal dit soooo geniet!! x

Riaan April 28, 2010

Smaak my ek moet maar nog sulkes skryf.

Tania van Hoof (Dubai) April 28, 2010

Baie oulik! Jy’t darem ‘n verbeelding en ‘n half Riaan! Ek’t baie van die Voortrekker en Spaar gedeeltes gehou! O ja, en die Shooters ook! Waar in die wereld kry mens Millers in Feetjieland? :)

Andrea Werner April 28, 2010

Dit is baie goed! Sal dit koop as dit in boekvorm uit kom, vir my kinders eendag. Kan nie wag vir die volgende verhaal nie!

Pieter H Beukes April 28, 2010

Briljant het my gateuit geniet!!!!!!!!!!!
Keep me posted with the next one
G
P

Gert April 28, 2010

Dit is so na aan die waarheid as kan kom,nie wat ek as kind vertel is nie,ma daai tegnologie was nog nie daar nie.

Magriet Schimper April 29, 2010

Riaan, dis baie goed. Ek het dit nou regtig geniet! Ek sal die ander ook nog gaan lees. Voorspoed en hou maar aan met skryf!

Dalene April 29, 2010

Skryftalent word nie gesaai nie - die pluk mens mos as enkelvrug uit die boom in die paradys van twee werelde - die een van ons wat skryf en skryf en niks bereik en die een van die wat lees en lees en min verstaan.

Satire is ‘n medium wat min baasraak - : seg ek jy kan maar vreesloos voortskryf in hierdie medium.

Wel, my kollegas is ‘hol-geskeurd’ by die deur uit, want natuurlik kon ek nie die versoeking weerstaan om hierdie volle waarheid in persoon voor te dra nie - (ek is mos ‘n drama queen - he he)..

Puik !!

Susan Knoesen April 29, 2010

Dis nou die beste weergawe van die storie wat ek nog gelees het!

RiaanNieuwoudt April 29, 2010

Ja nè , na amper 30 jaar gorrel jy nog …………lololol Dit was baie goed hoor , hou so aan. Gaan link op my profile sit.

Wanneer kan ons jou boek verwag ???

Groete

Evett Labuschagne April 29, 2010

Hi Riaan, dis skitterend!! Ons het al lankal ‘n nuwe weergawe van die ou storie nodig! As ek die ding so kyk gaan jy baie besig raak - skryf nog stories toe? Wat van ‘n boek om die kinders van vandag te leer om weer te lees - en nie heeldag voor die TV te sien nie. Jy het wonderlike talent!!

Meisie Louw April 29, 2010

Riaan dis die beste wat ek nog ooit gehoor het. Ek het my geweldig geniet, en ek se jou ek was daar in feetjie land. Hoop daar gaan nog sommer baie wees vir my klein kinders. Moet net nooit ophou skryf nie. Baie geluk met daai stuk werk, dit wil gedoen wees en gebruik jou talente.

Elizma April 30, 2010

Riaan dis wonderlik, ek het dit baie geniet en lekker gelag. Jy het verseker baie talente. G

coristica May 4, 2010

amusant!! en baie oulik!

Riaan May 4, 2010

Baie dankie Coristica en die ander wat sulke mooi goed gese het - ek waardeer dit regtig!

Mariska May 6, 2010

Dis SUPER!!!! Het lanklaas so lekker gelag. Baie oorspronklik Riaan!

Riaan May 6, 2010

Dankie Mariska!

Wolf May 7, 2010

Goue storie ou maat, maar jy moet dat ons bietjie brannas drink om die vuur dat Wolf jou my kant van die storie vertel hahahaha

Groete
Dirk aka Wolf

Riaan May 7, 2010

He he he - brannas sal werk Wolf!

LOS KOMMENTAAR

Afrigator