Monday 06 September 2010

Duiwelspiek

Deur Coos Diener op 7 May, 2010, 9:17 am

Kaapstad het my verbaas. Dis stad, maar daar is ook baie berg. Toegang is geen probleem nie: een oomblik is jy nog op die snelweg en dan eensklaps is jy in die berg. Die dead give-away is wel die ver-af gedruis van die stad, maar teenoor die skoonheid voor jou is dit ’n klein prys om te betaal.
Dus was ek aangenaam verras toe ek verlede naweek Duiwelspiek gaan klim het. Dit het al die elemente van ’n goeie dag in die berg, behalwe vir die dag gedeelte, want dit sal jou nie die hele dag neem nie. Die roete wat ons gevolg het is genaamd Mowbrayrif. Die paadjie begin agter die Rhodes gedenkteken (die Pommies darem: net ’n standbeeld sou seker ook gewerk het).

Die paadjie verlaat die verste punt van die parkeerterrein en kronkel op teen die berg. Na so paar minute se loop kom jy op die grondpad wat opgaan na die blokhuis. Ek wonder wie die Pommies van daar wou getimmer het of was dit meer vir seine? Ek is ook nou nie seker hoe ver daai kanonne iemand kon klits nie. Seker maar die Republiek by Swellendam vir wie hulle bang was. Die blokhuis is wel deesdae selfoontoring: die blykbaar onsigbare kanker. Waar is die dae toe ons nog eerbaar baklei het?

Die paadjie klim op teen wat nou seker nou Mowbrayrif is vanaf die agterkant van die blokhuis. Jy stap net verby die ou dam en aan deur die bome. Hier is die eerste verrassing. Jy moet ordentelik klouter teen daai krans uit. Hou maar jou oë oop om nie van die paadjie af te dwaal nie: as jy jou vasloop teen ‘n afgrond en jy sukkel aan gaan jy meer as net ’n mooi uitsig sien.

Bo-op die rif kan jy ’n keuse maak. Òf jy foeter bo-oor Minor Peak soos bobbejaan òf jy kontoer om na regs en klim soos ‘n gewone mens die berg. Die keuse is aangedui met klipbaken met ’n paadjie wat reguit aangaan oor Minor peak en die kontoerpad wat mooi level na regs aangaan. As jy ’n pick-six op Greyville-man is wat graag iets weet wat meeste mense nie weet nie, dan is hier nou vir jou iets: neem die kontoerpad. Alle paaie neem jou na die agterkant van Duiwelspiek, op die saal tussen Tafelberg en die piek. Dit is van hier waar jy in die laat-oggend skaduwee die piek klim. Indien jy wel laat-oggend gelê het, dan gaan jy niks hier kry nie, net moeilikheid. Die piek bereik jy na so 10 minute se klim. Die uitsig maak dit die moeite werd. ’n Vinnige tel sal jou wys maak dat jy twee baaie sien (nie twee oseane, daai is ‘n bemarkingsfoefie); ten minste vier bergreekse; een SBD (dis nou CBD in mooi Afrikaans); ’n eiland; die hele Cape Flats, Parow en Strand asook ‘n klomp dassiedrolle (in geen spesifieke volgorde nie).

Die paadjie oor Minor Peak is ook mooi sigbaar van hier af. Dis net vir die meer avontuurlustiges wat hou van klouter en bang is om hulle agterstewe in die lug te laat hang nie. Die roete is bietjie blootgestel en loop oor ’n mesrug. Nogals stewige kranse op daai mesrug, oordentelik berg hierdie. As jy daar af foeter val jy nie “doef, aaaaaaah” nie, maar “aaaaaaaaaaaah, doef”. As jy meestal nie vir jou ma geluister het nie kan jy die paadjie oor die mesrug en Minor Peak ’n goeie afgaan opsie. Ek sal dit wel nie aanbeveel vir die opkomslag nie. Ook nie vir mense met prêms en verantwoordelikhede nie. En veral nie as dit nat is nie.

Dis wel voorwaar ’n lekker stappie. Die hele trip sal die gewone stapper, as julle lekker vroeg trek, seker so sewe ure neem. Die wat nie so haastig is nie, sal so bietjie langer neem. Gelukkig is ’n roomys nie ver as jy by die kar kom nie.

Stuur na Twitter 

Versprei, print of e-mail hierdie artikel:
Print hierdie artikel Epos hierdie artikel

Hierdie artikel is geskryf deur:
Coos Diener Coos Diener - skrywer van 40 artikels op die Willeklong Portaal. Ek is op my gelukkigste as ek kan eet of slaap. Om hierdie twee dinge tot hulle maksimum te kan geniet hou ek daarvan om te gaan vars lug soek iewers in die berg of op die fiets tussen die Kaapse wingerde. Vir geld om al die dinge te kan doen, doen ek navorsing by Stellenbosch Universiteit.

Skrywer se web tuiste: www.wk.co.za

Lees meer in Hooflyn, Voetslaan.


KOMMENTAAR

Hamman May 7, 2010

Dis berg en stad - hoera!

Mooi beskrywing

Riaan May 7, 2010

Dit klink vir my na ‘n perfekte manier om ‘n Saterdag om te kry Coos!

Soutie June 3, 2010

Mense, daardie is mos in my agterplaas!

Vandat ek innie Kaap woon try ek om soveel moontlik in daai berge te kom. Duiwelspiek bly ‘n wonderliek stappie, maar volgende keer moet ons saam gaan India Venster klim tot op Tafelberg.

Ek het ‘n rukkie terug vir Marisa daar op forseer, en al was sy met my moeilik weens die redelike simpel afgronde wat mense soms mee moet sukkel was dit uiters goed gewees.

Laat weet wanneer julle weer hierdie kant toe kom dan maak ons ‘n plan!

LOS KOMMENTAAR

Afrigator