Monday 06 September 2010

Napier se Patatfees

Deur Coos Diener op 1 July, 2010, 5:42 pm

Sover ek kan onthou is van die eerste dinge waaroor Willeklong berig het was die feeste van die land van ons. Die vraag is wel: was julle al by die Patatfees? En nie waar nie, Napier!

Ek dink Napier is een van daai plekkies waarvan min mense al gehoor het en niemand spesifiek heen gaan nie, maar net verby ry. As jy wel eers daar gestop het sal die plek ‘n indruk op jou maak. Napier kan seker as Bredasdorp se buurdorp beskryf word – hulle is net 16km uit mekaar uit. Blykbaar was die een vir die Engelse en die ander een vir die Afrikaners…

Dit lê op die pad tussen Caledon en Bredasdorp en soos meeste dele van die Overberg word dit net in die verbygaan uit die venster van ‘n kar bekyk. Die paar oë behoort seker meestal aan ‘n karakter wat sopas die Groot Gariep oorgesteek het en oppad is om Hermanus binne te val. Nie dat daar nie iets is om te sien nie: in Napier se omgewing is die meeste paaie nog grond en hulle lei jou na uitsigte waar die landerye en koppies aanhou vir sover jy kan sien. Sanderige wêreld die. Uitstekend vir patats. Na aanleiding van die fees se naam sal mens kwalik van ‘n ooraktiewe verbeelding aangekla kon word as jy sou aanneem dat dié wortel die hooflandbouproduk van die streek is.

Die Patatfees is gewoonlik in die middel van Junie, seker net na die oes. Daar is iets vir almal: vir die wat nie moeg genoeg na die week is nie, is daar ’n halfmarathon en ook ’n bergfietsmarathon. Beide geskiet hoofsaaklik op die grondpad met lekker sanderige stukkies tussen-in. Nie regtig ’n probleem vir die drawwers nie, maar die dikwiele kan wild deur die sand sukkel. Soos die Overberg betaam, rol die heuwels lekker en beide roetes bring die deelnemer op plekke waar jy nie noodwendig self sou wou gaan nie, maar die uitsig is nie te versmaai nie. So paar jaar terug was die halfmarathon en die bergfietsresies so geskeduleer dat jy aan beide kon deelneem. Dié malles is dan as ysterpatatte gekroon.

As aktief wees nie jou palms laat sweet van opgewondenheid nie, maar jy ander talente het (een van hulle moet ongelukkig wees om nog nie saam met jou beterhelfte voor ’n kansel te gestaan het nie), dan kan jy inskryf vir die plaaslike skoonheidskompetisie. Hier is ‘n spesiale bonus, want die wenner hiervan word as Mej Patat gekroon. Ek weet nie of daar vanjaar ook weer iets vir die 6- tot 8-jariges of onder 1.4m was nie, maar die kroon van Mej Patatrankie was ook al in die verlede op die spel gewees.

Verder het die fees al die tipiese stalletjies van so plattelandse byeenkoms. En dis nogals lekker om so ‘n draai deur die stalletjies te wandel en dinge te bekyk en te beproe. En moet ook nie vergeet om vir jou van die lekkerste patats te koop nie. As jy een van die is wat bloot saamgesleep word op die uitstappie en jy eintlik net lus is vir koue ene kan jy ‘n draai by die watergat, “Pub Tyres”, gaan maak. Dis in die hoofstraat, net langs die NG Kerk, oorkant Huis Klippedrift (die outehuis). Daar is ook die Moerse restaurant met “moerse lekker pies” en “moerse breakfast” en “warm, sexy brode” om net ‘n paar te noem. Napier het duidelik iets vir almal.

Stuur na Twitter 

Versprei, print of e-mail hierdie artikel:
Print hierdie artikel Epos hierdie artikel

Hierdie artikel is geskryf deur:
Coos Diener Coos Diener - skrywer van 40 artikels op die Willeklong Portaal. Ek is op my gelukkigste as ek kan eet of slaap. Om hierdie twee dinge tot hulle maksimum te kan geniet hou ek daarvan om te gaan vars lug soek iewers in die berg of op die fiets tussen die Kaapse wingerde. Vir geld om al die dinge te kan doen, doen ek navorsing by Stellenbosch Universiteit.

Skrywer se web tuiste: www.wk.co.za

Lees meer in Hooflyn, Wat jaag ons.



Nog geen kommentaar.

LOS KOMMENTAAR

Afrigator